Die Pietersen-kommissie: Nog geen sitting nie
Dis 9 dae nadat die raad besluit het dat ‘n kommissie binne 14 dae ‘n omvattende verslag oor die Noël Pietersen-regstatus aan die raad moet voorlê. Die kommissie het nog nie eens één maal vergader nie!
Weet wat werklik aangaan; weet 1ste!
Klik hier om ‘n e-pos te ontvang wanneer daar ‘n nuwe berig op OudtshoornOnline verskyn.
Klik op die advertensies.
Oudtshoorn. 26 Maart 2010. 08h00. Die speaker, raadsheer Pierre Nel, het gisteroggend aan OO bevestig dat die lede van die kommissie wat oor die Pietersen-regsaangeleentheid aan die raad verslag moet doen reeds geïdentifiseer is, maar dat die kommissie nog nie met sy werksaamhede begin het nie.
Die raad het op 12 Maart eenparig aanvaar dat ‘n volledige verslag oor die langdurige regsaak van die voormalige munisipale bestuurder, Noël Pietersen, oorweeg moet word. Dié besluit is geneem nadat die uitvoerende burgemeester, raasdame Diane de Jager, ‘n verslag oor die Pietersen-aangeleentheid voorgelê het. Die raad se besluit op ‘n kommissie was ‘n dduidelike verwerping van die burgemeester se verslag.
Die raad het 14 werksdae opsygesit vir die kommissie se beraadslaging. Vandag is die negende dag en die kommissie het nog nie eens een maal vergader nie.
Die speaker het aan OO gesê dat die inligting oor die Pietersen-regsaak Woensdag om 12h00 by die tydelike waarnemende munisipale bestuurder se kantoor ingehandig moet gewees het, maar dat die inligting nié teen die keertyd ontvang is nie.
Die kommissie het va vandag af, nog ses dae oor om sy verslag, op die veertiende dag aan die raad te kan voorlê.
Maar die keerdatum – 2 April, is ‘n openbare vakansiedag. Die volgende werksdag is Dinsdag, 6 April.
Volgens die speaker is alle raadslede gewoonlik nie tydens skoolvakansies geredelik beskikbaar nie en sal die verslag waarskynlik moet oorstaan tot die volgende geskeduleerde raadsvergadering op 29 April.
Dit is ‘n ope vraag of die kommissie die nodige regstegniese kennis sal hê om die inligting, wanneer dit beskikbaar gestel word vir oorweging, te evalueer ten einde ‘n voorstel oor die Pietersen-saak aan die raad te maak.
‘n Lid van die kommissie het reeds hierdie besorgdheid met OO gedeel en gesê dat ‘n kundige dalk die kommissie sal moet bystaan. Hierdie kundige is nog nie geïdentifiseer nie en ‘n konsultant se onmiddelike beskikbaarheid is allermins ‘n gegewe.
Dis waarskynlik nie ‘n ernstige probleem dat die kommissie se werksaamhede laat begin nie, en dat die verslag baie moontlik laat voorgelê gaan word nie.
Maar dit is aanduidend van ‘n onverskillige (lackadaisical) omgang met die bestuur en die regering van Oudtshoorn.
Oudtshoorn se administrasie is by ‘n keerpunt. Die ingrype van die konsultante Mubesko en MeyerOtto en van die Ontwikkelingsbank en die teenwoordigheid van ‘n provinsiale verteenwoordiger om die herstelplan uit te voer, gee Oudtshoorn ‘n kans op volhoubare goeie administrasie.
Maar die munisipaliteit is sonder ‘n baas. ‘n Nuwe munisipale bestuurder moet spoedeisend aangestel word en die kommissie se traagheid kan moontlik ‘n besluit oor ‘n munisipale bestuurder verder vertraag.
Daar is nie ‘n energieke, raakvat bestuurshouding op Beroerdplein vaardig nie.
En Oudtshoorn verdien raadslede en amptenare wat Oudtshoorn se sake met toewyding en erns bestuur.
Dit is voorts ook ‘n aanklag teen die raad se bestuursparaatheid: daar was aanvanklik onsekerheid oor die veertien dae – was dit veertien kalenderdae of veertien werksdae? Daar is later duidelikheid gekry dat dit veertien werksdae sou wees. Maar het die raad rekening gehou met die vakansiedae in Maart en April? Met die skoolvakansie? Met die KKNK wat baie tyd opeis?
Die Pietersen-kommissie kon lánkal aangewys geword het en lánkal begin werk het en lánkal ‘n aanbeveling aan die raad gemaak het. Doelgerigte en doeltreffende leierskap is al way nodig was.
En, natuurlik, die raad het hom andermaal beroep op ‘n burgemeester wat so ‘n swak verslag oor die Pietersen-aangeleentheid gedoen het dat daar nie eens oor gestem is nie.
Oudtshoorn se bestuur is belángrik!
O, vir ‘n raad en ‘n amptenary wat dít besef en dienooreenkomstig met erns bestuur!
Klik hier om terug te gaan na die OudtshoornOnline voorblad
Klik hier om ‘n e-pos te ontvang wanneer daar ‘n nuwe berig op Eden24 verskyn
WAT IS NUUT MENEER?