EdenOnline

Van koalisie-politiek tot alliansie-politiek

Posted in Uncategorized by edenonline on March 22, 2010

Wat hou dit vir Oudtshoorn in?

Almal wat ooit in die weermag was ken die frustrasie van hurry up and wait. Almal wat al ooit ‘n doktorsafspraak gehad het weet hoe dié arrogante “my tyd is belangriker as jou tyd”-houding ‘n mens tot raserny kan dryf. Die sperdatum vir opposisie-samewerking het Saterdag gekom en gegaan… ons sal oor ses maande weet. Assebliéftog! Behoede ons die politici!

Weet wat werklik aangaan; weet 1ste!
Klik hier om ‘n e-pos te ontvang wanneer daar ‘n nuwe berig op OudtshoornOnline verskyn.
Klik op die advertensies.

Oudtshoorn. 23 Maart 2010. 06h00. Die DA het windmakerig – ten minste in privaatgesprekke – opgegee dat die OD tot die 20ste Maart het om soos ‘n goeie brakkie om te rol en dood te speel, of om die 2011-verkiesing op sy eie aan te durf.

Dale Carnegie draai in sy graf om teen die spoed van wit lig. Dít is nié die manier om vriende te maak en mense te beïnvloed nie.

Wel, die keerdatum het gekom en gegaan. Van die baasskaphouding het vere gekom.

OO voel oor politici soos Shakespeare se konstabel Dogberry gebabbel het: “Marry, sir, they have committed false report; moreover, they have spoken untruths; secondarily, they are slanders; sixth and lastly, they have belied a lady; thirdly they have verified unjust things; and to conclude, they are lying knaves.” (Much ado about nothing, 5.i.204-208.)

Die DA se hardegat (Theuns, jy sal weet dat ek dit as ‘n kompliment bedoel) Wes-Kaapse leier is juis net na sy onlangse herverkiesing aangehaal dat die DA die OD van die vloer wil vee.

G-a-a-p.

OO is gatvol vir politieke rodomontade*.

Oudtshoorn gaan al lánk gebuk onder politieke boelies.

Genóég!

Eers was dit die ANC se Richard Dyantyi wat sy kornuit, Louis Scheepers, op Oudtshoorn losgelaat het om algehele wanorde te saai en ons aan Noëlie Pietersen se genade oorgelaat het – en, gevolglik, vir ons met, onder andere, Thembani Gutas en Chantelle Williams opgesaal het.

Toe was dit die DA se Gerrit van Rensburg en Jac Bekker wat belowe het MC Botha gaan Oudtshoorn uit die hand van die bose kom red. Botha was gans te skerp om hom aan die DA se beloftes te gesteur het en het die politieke “gunsie” om Oudtshoorn se waarnemende munisipale bestuurder te word van die hand gewys. (OO het Van Rensburg en Bekker weke voordat Botha hulle geweier het, reeds gesê Botha sal nie kom nie.)

Geen probleem nie! Ene Wessel Rabbets is nét die man!

Jaaa, boet. Rabbets is vort. Hy wil nie meer die jop hê nie. En oor Rabbets se nalatenskap publiseer OO later vandeesweek ‘n volledige analise.

Wie sal óóit vir Tinus Matthysen vergeet!? Nét die man!, het Bekker gesê. En maande nadat elkeen met ‘n halwe breinsel al gesien het Matthysen is ‘n nikswerd, het Bekker volhard – en het Rabbets OO berispe dat OO eers indringend met Matthysen moet gesels voordat onsmaaklike uitsprake oor die waarnemende hoof finansiële amptenaar se vermoëns gemaak word.

Die DA weier om sy totentaal onbevoegde burgemeester, Diane de Jager, te verwyder. Bekker het die voormalige waarnemende munisipale bestuurder, Rabbets, reeds maande gelede versoek om tog asseblief ‘n “administrateur” vir die burgemeester aan te stel – ‘n onweerlegbare erkenning dat De Jager nie die mas as burgemeester opkom nie.

Terloops, die einste bovermelde Theuns Botha het op 19 Februarie verlede jaar reeds erken dat die DA-koukus op Oudtshoorn geheel en al onbevoeg is en het nie een nie, maar twéé senior DA-leiers aangewys om die koukus se besluite te rig, én Botha het hulle vetoreg gegee! ‘n Absolute bewys dat selfs die DA-leiers lankal reeds weet dat die DA-raadslede op Oudtshoorn nikswerd is.

Botha se besoek dertien maande gelede het gevolg op ‘n vergadering in 2008 waartydens Helen Zille die DA-raadslede die Leviete oorverdowend voorgelees het.

James Swigelaar swig reeds máánde voor die eise wat die finansportefeulje stel, maar die DA weier om in belang van Oudtshoorn ‘n burgemeesterskomiteepos van ‘n kameraad! weg te vat. Klink dit nie baie soos die kritiek wat die DA gereeld voor die ANC se deur lê nie!?

Dóén die DA iets aan hierdie ongure situasie? ‘n Situasie waarvan hulle reeds sedert die 2007 skorsingskandaal op Oudtshoorn bewus is?

Níks!

Nou het die DA glo ‘n kandidaat geïdentifiseer om waarnemende munisipale bestuurder te word tot na die 2011-verkiesing.

Nóú, nadat die Pietersen-uitspraak die vorige MB se kontrak tot ‘n einde gebring het. Die DA het nie die politieke en administratiewe insig gehad om weke gelede reeds ‘n kandidaat te identifisser het en dié kandidaat aan die MB van daardie tyd bloot te stel nie.

Terwyl die lapprop-MB, Keith Jordaan, met breë borsie links en regs rig terwyl hy eintlik net die winkel se deure moet oophou en vir die klante sê die nuwe baas is nou-nou maar hier, trap die DA nou water om ‘n verstopte neus bo die branders te hou. En kul jou hier en hul jou daar en siédaar: ‘n Kandidaat!

OO maan die raadslede: Hou verby. Steur julle tot nadeel van Oudtshoorn aan die DA en Jac Bekker se kandidaat – wie dit ook al mag wees.

Die identiteit van die DA se kandidaat is reeds aan OO bekend. Maar OO se kommentaar het niks te doene met die vermoë al dan nie van dié kandidaat nie; OO se kommentaar is eenvoudig ‘n caveat oor die plaaslike DA-leierskap se oordeelsvermoë.

OO doen ‘n beroep op die ANC en die OD en die NPP om in belang van Oudtshoorn op te treë en om ‘n waarnemende munisipale bestuurder aan te stel wat nie deur ‘n bepaalde politieke party voorgestel word nie. Iemand wat die jop kan doen; iemand wat die jop wíl doen. Nié iemand wat ‘n bepaalde politieke party se agenda dien nie. Iemand wat reeds weet wat op Oudtshoorn aangaan; wat nié op Oudtshoorn aangaan nie en, veral, hóé dit aangaan en nie aangaan nie.

Ai, om te dink die DA se James Swigelaar het vroeër vandeesmaand die ANC vermaan om nie ‘n “politieke” aanstelling te wil maak nie. Ai, jai, jai, jai, jái, jai-jai!

OO het verlede jaar lank die Oudtshoorn Eerste inisiatief ondersteun. Hoofsaaklik omdat OE nie politieke base buite Oudtshoorn gehad het nie. Daar is verskeie redes waarom OO sy ondersteuning aan OE onttrek het. Maar OO stel dit vandag weer onomwonde: Oudtshoorn is groter as ‘n politieke party en beslis groter as bepaalde individue. OO staan vir wat die beste is vir Oudtshoorn, objektief beoordeel en nadenkend oorweeg. En wat die beste oplossing is vir Oudtshoorn is nié noodwendig dit wat die party van OO se voorkeur vir Oudtshoorn wil hê nie. Onder súlke omstandighede – objektiewe nadenke omstandighede – sal OO nie skroom om raadslede, van wátter party ook al, te ondersteun tot voordeel van Oudtshoorn nie.

Die plaaslike DA se mees onlangse besluite oor kern-amptenare was eenvoudig swak. OO reken die DA se kandidaat vir waarnemende munisipale bestuurder moet buite rekening gelaat word.

Hoe’t Bertrand de Poulengey, in Bernard Shaw se Saint Joan, nou weer gesê… “We want a few mad people now. See where the sane ones have landed us!”

* Rodomontade, snw. (uitspraak: roh-doh-monh-TAHD). Frans, uit die Italiaans, na Rodomonte, die windgat koning in Matteo Boiardo se gedig Orlando Innamorato (c. 1506). Dit beteken aanmatigende spraak; raserige, bulderende, swetsende spraak; grootpratery.

Klik hier om terug te gaan na die OudtshoornOnline voorblad

Klik hier om ‘n e-pos te ontvang wanneer daar ‘n nuwe berig op Eden24 verskyn

Klik hier om terug te gaan na die Eden24 voorblad

One Response

Subscribe to comments with RSS.

  1. 007 said, on March 23, 2010 at 2:10 pm

    En die ANC lag hulle dood!


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.