Onbeholpe amptenare kos Kannaland onnodige regskoste
’n Belastingbetaler weier om geïntimideer te word!
Die Kannaland munisipaliteit kry bloedneus toe ‘n belastingbetaler weier om geïntimideer te word. Talle siviele eise kan volg na Hennie Smit van Calitzdorp se klinkende oorwinning oor ‘n onbeholpe munisipaliteit!
Weet wat werklik aangaan; weet 1ste!
Klik hier om ‘n e-pos te ontvang wanneer daar ‘n nuwe berig op OudtshoornOnline verskyn.
Klik op die advertensies
Oudtshoorn. 15 Maart 2010. 06h00. Mnr Hennie Smit van Calitzdorp het op 6 Oktober 2003 6 erwe in Calitzdorp gekoop waarvan hy een in April 2008 verkoop het. Met die aankooptransaksie is die eiendomsbelasting op al die erwe ten volle vereffen.
Met sy eerste aanslag as eienaar, op 5 Oktober 2004, het Smit ontdek dat Kannaland die erfbelasting reeds geruime tyd verkeerd bereken het en dat die pro rata belasting wat hy by die aankoop van die erwe in Oktober 2003 betaal het, ook verkeerdelik bereken was.
Die kern van die probleem was dat die Kannaland munisipaliteit eensydig besluit het om erwe op rekeninge saam te groepeer ten einde administrasie te vergemaklik. Sodoende is die primere korting op die eerste R15,000 van die waardasie van elke erf slegs eenmalig toegestaan, en nie per erf soos die munisipaliteit se tariefstruktuur bepaal nie. Smit is dus hoër aangeslaan as wat hy moes betaal het.
Kannaland het op 28 Oktober 2004 per brief verklaar dat hy sy berekeningsmetode reeds 12 jaar lank gebruik.
Smit het sedert 2004 ágtien maal! met die munisipaliteit vergader om die probleem by te lê – die laaste maal op 25 Februarie 2009.
Op 14 April 2008 het Kannaland ‘n herberekening gedoen en het Smit dié nuwe bedrag ten volle betaal. Die munisipaliteit het onderneem om Smit se rekeninge reg te stel en om hom van korrekte rekeninge te voorsien.
Nie net het die munisipalitiet hierdie onderneming nooit gestand gedoen nie, die munisipaliteit het die verbysterende administratiewe gebrekkigheid getoon om Smit vir die verskil tussen die (hoër) verkeerde bedrag en die bedrag wat hy na die 14 April-berekening betaal het, te dagvaar!
Nadat Kannaland se direkteur finansiële dienste openbare uitsprake gemaak het dat die munisipaliteit se rekening-lewering en datasuiwering nie aanvaarbaar is nie, het Smit op 25 Februarie 2009 sy eie berekeninge en ‘n tjek aan die direkteur oorhandig en onderneem om enige addisionele korrek berekende bedrae te betaal. Die direkteur het onderneem om Smit se klagtes dringend te ondersoek.
Helaas!
Die munisipaliteit het in verstek gebly om Smit se rekeninge by te werk en het Smit uiteindelik in Desember 2009 gedagvaar, ondanks die feit dat die munisipaliteit deeglik bewus was van Smit se betoog. Na die dagvaardiging het Smit ándermaal sy verweer op 7 Desember skriftelik uiteengesit en bygevoeg: “Dit is my oorwoë mening dat hierdie hele kwessie totaal oorbodig is en indien die (Kannaland munisipaliteit) die nodige aandag aan my jarelange skrywes gegee het, hierdie gelde ter sprake reeds lankal in hul bankrekening sou reflekteer. Hierdie is ‘n sinlose vermorsing van belastingbetalers se fondse en ‘n sprekende voorbeeld waar ‘n beuselagtigheid verhef word tot onnodige regsaksie en magsvertoon.”
Op 4 Februarie vanjaar word verskeie lede van die Kannaland Belastingbetalersunie (KBU) se krag sonder waarskuwing afgesny. Smit word gedreig dat sy water ook afgesny sal word as hy nie sy “agterstallige rekening” onmiddelik vereffen nie. Smit weier die afsnyspan toegang tot sy perseel en die SAPD word ingeroep en Smit met arrestasie gedreig. Smit se kleindogter is by hom aan huis en omdat daar nie tyd is om ‘n interdik te bekom nie, gaan betaal hy die gewraakte bedrag ten einde sy gesin trauma te spaar.
Ná die betaling van R2,284.08 én ‘n heraansluitingsfooi van R228, kry ene mnr Meyer, die beampte in beheer van die afsnyspan, direkte opdrag van die Kannaland munisipale bestuurder, mnr de Lange, om Smit se toevoer nié te herstel voordat die volle uitstaande rekening betaal is nie.
Smit weier om verder geïntimideer te word en Meyer sien in dat die MB se instruksie ongeldig is en herstel Smit se dienste.
Op 6 Februarie ontvang Smit sy munisipale rekening wat op 15 Februarie betaalbaar is – bewys dat die munisipaliteit sy dienste voortydig en wederregtelik afgesny het!
Smit het mnr Christo van der Bergh van die Oudtshoorn regsfirma Coetzee & Van der Bergh opdrag gegee om die aangeleentheid ten alle koste te beveg, en om die summiere vonnis teen te staan. Kannaland se prokureurs het op 11 Maart aan Van der Bergh voorgestel dat toestemming gegee word om die saak te verdedig solank koste in geding was. Van der Bergh het hierdie aanbod geweier en duidelik aangetoon dat hy instruksies het om die saak in die hof te beveg en koste teen die munisipaliteit te verkry in die summiere aansoek. Die munisipaliteit het daarop alle aksies teen Smit teruggetrek en regskoste getender: ‘n rekening vir die belastingbetalers se sak.
Hierdie uitkoms is ‘n reusesukses vir Smit en vir belastingbetalers oral.
Van der Bergh is reeds telefonies meegedeel daar verskeie ander belastingbetalers is wat belastingbetalings wat hulle die afgelope jare aan Kannaland gemaak het wil laat ondersoek. Die moontlikheid van siviele aksies teen Kannaland vir oorverhalings van belastings kan dus nie uitgesluit word nie. Die munisipaliteit se houding was deurgaans dat hulle ondersoek na moontlike foutiewe berekeninge sou doen as Smit alles sou betaal soos op die rekening vervat. Van der Bergh het dié onderneming gesien vir wat dit werd was en was, nes sy kliënt, nie bereid om deur die munisipaliteit geïntimideer te word nie.
Van der Bergh is meegedeel dat die geld wat Smit by die Hof inbetaal het ter skikking terugbetaal sal word en dat die munisipaliteit reeds Vrydag die nodige herberekeninge sou maak. Dit blyk dit dat Smit dalk selfs minder verskuldig mag wees as wat sy eie berekeninge aantoon!
Van der Bergh het OO Vrydag meegedeel dat sy kantoor reeds drie versoeke van belastingbetalers ontvang het om Kannaland oor verkeerde takserings aan te vat.
Suid-Afrikaners het kennelik genoeg gehad van onkapabele plaaslike owerhede wat hulle onbevoegdheid agter intimidasie probeer wegsteek.
Christo van der Bergh kan gekontak word op 044 272 8931 of 083 627 5202.
Klik hier om terug te gaan na die OudtshoornOnline voorblad
Klik hier om ‘n e-pos te ontvang wanneer daar ‘n nuwe berig op Eden24 verskyn
leave a comment