Die Pietersen-appèl: Vertorende, verdollende onsekerheid
Andermaal versluier die munisipaliteit kritieke inligting. Wat gaan aan? Wie baat by die geheimhouding?
Weet wat werklik aangaan; weet 1ste! Klik hier om ‘n e-pos te ontvang wanneer daar ‘n nuwe berig op OudtshoornOnline verskyn. Klik op die advertensies.
Oudtshoorn. 8 Maart 2010. 06h00. Die appèlsaak van die afgedankte, skuldigbevinde voormalige munisipale bestuurder, ds Noël Pietersen, en die munisipaliteit se hantering van hierdie sensitiewe saak se invloed op die bestuur van die munisipaliteit het sedert vroeg Februarie erge onmin veroorsaak onder raadslede en die publiek.
OO is van mening dat inligting oor Pietersen se appèl en die invloed van die uitkoms op die kontrak van die waarnemende MB strategies… ag, kom ons noem dit nou maar die kind by sy ware naam: dat die inligting doelbewus gemanipuleer is.
Wat presies die uitspraak Vrydag was en watter gevolge dit vir Pietersen en vir die voortgesette betrokkenheid van Wessel Rabbets by die munisipaliteit het, is vertorend en verdollend onseker.
OO kan egter bevestig dat ‘n raadslid na aan Pietersen aan ‘n raadslid wat OO ingelig het, gesê het dat Pietersen aanvaar dat hy op sy baadjie gekry het en dat die arbeidshof nou sy enigste en laaste uitweg is.
Dit het intussen ook aan die lig gekom dat planne in werking is om die pos van munisipale bestuurder te adverteer. Die munisipaliteit is dus verseker dat die Pietersen-saak afgehandel is.
Die waarnemende MB het die munisipaliteit se regsverteenwoordigers, Fairbridges, op 26 Februarie om ‘n mening gevra oor die status van die Pietersen-appèl. Die navraag is gerig omdat die ANC die raad se mandaat vir die appèlproses van die dissiplinêre verrigtinge tydens die raadsvergadering op 25 Februarie bevraagteken het.
Me Adela Petersen van Fairbridges het op dieselfde dag ‘n brief aan die BM gestuur waarin sy die raad se mandaat bevestig.
Petersen het dit in haar brief baie duidelik gemaak dat Pietersen ‘n bepaalde aansoek gebring het – ‘n bevel dat hy toegelaat word om mondelinge getuienis tydens sy appèlverrigtinge te lewer: “He has brought an interlocutory application to lead oral evidence at the appeal. This point is being considered by the presiding officer. He will present his finding on this aspect on 5 March 2010.”
Alhoewel die raadsvergadering op 3 Maart voortgesit is – na afloop van ‘n werkswinkel oor die aansuiweringsbegroting – het die BM Petersen se brief eers op Donderdag, 4 Maart, aan die speaker gestuur vir verspreiding onder raadslede.
Die BM ignoreer sedert 16 Februarie OO se navrae oor die Pietersen-appèl (klik hier) en haar persoonlike assistent het OO op Vrydag, 5 Maart, na die soveelste navraag, ingelig dat die BM eers weer op 12 Maart op kantoor sal wees.
Die LUR vir plaaslike regering, Anton Bredell, het gisteraand in ‘n e-posgesprek gesê dat die BM hom oor die naweek ongelig het “dat daar ’n probleem is met die Pietersen hofsaak en die kontrak van die (waarnemende munisipale bestuurder). Sy het geen aanduiding gegee dat sy nie Maandag op kantoor gaan wees nie.”
OO het Donderdagaand verneem dat die MB sou gesê het dat hy na die Pietersen-uitspraak die volgende dag nie meer ‘n werk sou hê nie.
Die BM en die raad se skynbare onverskilligheid teenoor Wessel Rabbets, om sy voortgesette of kortgeknipte termyn nie eens met hom te bespreek het nie, het OO genoop om hierdie sms aan Rabbets te stuur, nadat Rabbets nie ‘n telefoonoproep beantwoord het nie: “Wessel, ek wil graag dat jy weet dat ek dink die raad se gebrek aan optrede oor jou kontrak is weersinswekkend. Beste wense; ek meen ons gaan nog baie van mekaar sien – of dit nou goed is, of sleg!”
OO was onbewus van die Fairbridges-brief en het Petersen vir kommentaar genader. Sy het dit duidelik gemaak dat slegs ‘n tussentydse bevel “today, or if the Presiding Officer does not get round to it, sometime next week” uitgereik sou word.
Op OO se vraag of die uitspraak van 5 Maart die einde van die pad vir Pietersen is, het Petersen beslis gesê dat dit nié die einde van die pad is nie.
Met dié inligting stuur OO toe ‘n tweede sms aan Rabbets: “Baie geluk, meneer! Soos dit nou aangaan, gaan jy nog jaaaaaare hier wees!”
Minute later word OO toe oor drie dinge ingelig:
1) Die inhoud van die Fairbridges-brief;
2) Dat Rabbets Donderdagmiddag personeel gegroet het met ‘n opgewekte “sien jou Dinsdag”;
3) Dat die BM tydens die BMK-vergadering Donderdag aan bepaalde kornuite* sou gesê het dat Rabbets vir twee weke op verlof gestuur sou word na afloop van die Pietersen-uitspraak, dat iemand aangewys sou word om vir dié twee weke in Rabbets se plek waar te neem en dat die raad Rabbets se termyn dan tydens die volgende raadsvergadering tot 2011 sou verleng.
En toe val die legkaart meteens in plek.
Die BM was nie onbetrokke oor Rabbets se kontrak nie. Sy en Rabbets het reeds op 26 Februarie geweet hoe die wind waai. Daarom, waarskynlik, Rabbets se gemoedelikheid die
afgelope week – nie die houding van ‘n man wat oor ‘n paar dae nie meer ‘n werk sou hê nie.
Maar tydens ‘n telefoongesprek Vrydag, toe Rabbets OO se vroeëre oproep beantwoord het, het Rabbets voorgegee dat hy nie oor die inligting beskik wat Petersen (van Fairbridges) aan OO gegee het nie.
Maar natúúrlik het hy oor dié inligting beskik! Al sedert die vórige Vrydag! De Jager en Rabbets het gekiés om die inligting nie openbaar te gemaak het tot na die raadsvergadering, wat eers Woensdag geëindig het, nie.
OO is nie bereid om te sê dat Rabbets gelieg het oor wat hy geweet het al dan nie, maar OO het bepaalde voorbehoude oor waar op die verisimilitude-skaal** Rabbets se klopdans sal registreer.
Diane de Jager het nie verniet daarin geslaag om te spyte van haar ensiklopediese onbeholpenheid burgemeester te geword het en te bly nie – sy is uitgeslape en as sy hierdie energie wat oorlewing verbruik kon fokus op die taak voor hande, sou sy dalk net die kwaliteite van ‘n uitvoerende burgemeester kon… monster.
Sy skryf in ‘n dekkingsbrief aan die speaker waaraan die Fairbridges-brief geheg is: “Alle korrespondensie was en is gerig na Advokaat C. Williams…”
Yeah. Right.
Williams was waarskynlik op die een of ander aboratiewe mutasie van verlof terwyl Rome an die brand was.
Kul jou hier en kul jou daar en siédaar: “Dissie mý skuld nié! Wat jy wáá’ kry, tannie Diane!?”
Dit ís jou skuld, tannie Diane. Jy’s die uitvoerende burgemeester, sien…
Dit is tans onduidelik waarom die BM en die MB nie inligting oor die Pietersen-verrigtinge bekend wou maak nie. Hulle sal ongetwyfeld aanvoor dat daar g’n niks verdag aan hulle se doen en late was nie.
Dat die tweetjies onder dieselfde digte kombers toegewikkel was is egter ‘n gegewe.
Die kollektiewe obskurantisme wat lyf kry in disinformasie opgesmuk in ‘n goedkoop aandpak beïndruk OO nogals nie juis nie.
Dit is alombekend dat die ANC Rabbets wil verwyder en dit word al duideliker dat die OD ook probleme met Rabbets se bestuur het. Deur ‘n krisis af te dwing en Oudtshoorn eensklaps sonder ‘n munisipale bestuurder te laat gee De Jager en Rabbets die geleentheid om Rabbets se opponente onkant te betrap en van ‘n vinnige tikskoppie af onder die pale te gaan druk.
Die ANC en die OD is egter nie die pampoene wat die DA meen hulle is nie…
Something is rotten in the state of Denmark. (Hamlet, Prince of Denmark. I.iv.89-90; gesê deur Marcellus.)
* Kornuit, s.nw. Kameraad, met ongunstige bybetekenis: Piet en sy kornuite doen al weer kwaad vanaand.
**Verisimilitude, n. The appearance of truth; the quality of seeming to be true. Die Oostenrykse wetenskapfilosoof, Karl Popper (1902-1994), het geleer dat die eliminasie van teorieë die “eendersheid met waarheid” (similarity to the truth) van die oorblywende teorie(ë) verhoog.
Klik hier om terug te gaan na die OudtshoornOnline voorblad
Klik hier om ‘n e-pos te ontvang wanneer daar ‘n nuwe berig op Eden24 verskyn
Hel man, maar ek het nie besef die Tannie kan so goed ‘Tango’ nie!
En wragtag moet ‘Rabbi ‘sy steps ken om saam te dans hoor!
Ons moet fyn kyk om hierdie fyn ‘steps’ uit te kyk hoor! Demmit!
Wesseltjie, oppas vir die ‘after-party’ Boet, jy sien hoe val die ‘dolosse’ vir ”PIETIE” die dominee ne? Religion’ is n ding wat lelik byt, ”like a Puffadder” Boet! Jy weet seker n ”Puffadder” byt na agter ne? PIETIE het dit verseker agtergekom en spartel en spook lelik ou!
Ligvoet dans Boet!